In the media

DRD baat by belegging in tegnologie

[Beeld] -- DRDGOLD het die enigste goudprodusent geword wat in die verslagtyd tot einde Junie ’n dividend verklaar het.

DRDGOLD het die enigste goudprodusent geword wat in die verslagtyd tot einde Junie ’n dividend verklaar het. Dit is danksy die moderne tegnologie wat hy inspan om goud uit ou mynhope te herwin.

Die marginale produsent het die afgelope twee jaar R300 miljoen bestee aan ’n hipermoderne maal- en flotteringsaanleg wat nou begin vrugte dra. In die jaar tot einde Junie was dit meer as betalend en sy bedryfswins het met 9% tot R679,3 miljoen toegeneem.

Dit het Niël Pretorius, uitvoerende hoof, in staat gestel om Vrydag ’n dividend van 28c per aandeel te verklaar – 180% meer as in die vorige jaar.

Dis veral die fyner maalproses en die nuwe flotteringsaanleg in ’n nuwe baan by Ergo in Brakpan wat beter opbrengste lewer. Die nuwe aanleg is in die afgelope jaar in gebruik geneem en sal eers teen Desember ten volle op dreef wees.

Goudproduksie het danksy die nuwe prosesse met 8% tot 146 381 fynonse verbeter, maar Pretorius meen dat die nuwe toerusting die onttrekking van goud met tussen 16% en 20% gaan verhoog. Dit kan dus op die duur nog groter voordele inhou.

DRD het sy goudbronne by Ergo en sy aanleg by Crown naby Nasrec gekombineer sodat dit hom nou ’n goudbron van 11 miljoen fynonse gee.

Hy het in die jaar 23,2 miljoen ton afval deur sy aanlegte verwerk en gemiddeld 0,196 g goud per ton herwin – 0,001 g meer as in die vorige jaar. Die volle voordeel van die nuwe aanleg sal egter eers in die Desember-kwartaal duidelik wees.

DRD se kapitaalbesteding sal in die komende jaar ook heelwat afneem omdat die projek nou byna afgehandel is.

COOKIES: This site uses cookies to enhance your website experience. See our privacy policy for further details.